Rendevouz

Vanoggend het ek met sulke gemengde gevoelens opgestaan. Gefokus op ‘n geïnpakkery van formaat, want ek is well en truly ‘n girl, maar met die wete dat ek die twee seuns gaan afsien.

Emile (my eie), gaan saam met sy pa (‘n vorige eggenoot van my), Hartenbos toe en ek kry hom 12 uur op Port Elizabeth se lughawe. Dis dan ook daar waar ek vir Jakkie (amper soos my eie) op die vliegtuig sit sodat hy vanaand by sy ma kan wees (my tjomma, Rienie).

Maar inpak en uitpak was nog altyd vir my ‘n verdomde straf! Weet goed nie waar hulle hoort nie en hoekom kry mens nie goed met voete nie! Ek weet ook nie hoekom kan ‘n vakansiehuis nie kompleet kom met ‘n klerekas vol klere, kruideniersware, swemhanddoeke, strandstoele, visstokke en goed wat mens bitter nodig het vir vakansiehou nie. Hoe moeilik kan dit nou wees om jou gaste se behoeftes voor die tyd uit te vind? Dit sal mos nou ‘n teken van eersteklas diens wees as ‘n gasheer of gasvrou so kan aandag gee aan hulle gaste se behoeftes. Ai!

Aan die ander kant, ken ek myself. Ek sal tien teen een sommer ook net sê hulle moet alles los, ek sal dit self kom uitsorteer. Die alewige selfstandigheid van my kan mens maklik vir hardkoppigheid insien. Tsk! Tsk! (EN wie’t nou gesê dis ‘n verkeerde ding?)

Die gepakkery is ‘n genadeloosheid wat my energie kan laat ontbind soos ‘n slegte sarsie roadkill op die N1. Dit maak my poegaai om te onthou in watter sak ek watse botteltjie of papiertjie indruk. Ek het nou nogals gedink ek het dit nou goed uitgewerk om vir elke ding sy eie sak te allokeer. (Helaas, nou het ek ‘n moerse klomp sakke met goeters in!)

Een sak is in sy totaliteit aangewend as skoenesak en dit is nie sommer net ‘n klein sakkie nie. Dis ‘n behoorlike togsak met genoeg spasie vir twee paar skoene vir elke dag wat ek weg is by die huis, en dan ook so ‘n bietjie ekstra plek vir die skoene wat ek weet ek gaan koop.

Ek het, volgens my, ‘n baie geldige verskoning … ek het mooi voete! Dis my lisensie om seker te maak dat ek genoeg skoene het om enige vrou met afguns tot waansin te dryf. Jissie! Ek wens soms ek het vier voete!

Dan is daar die sak vir al die creampies wat ek moet saamkarwei vir ingeval ‘n nuwe of parmantige plooi my uit die bloute uit bespring, of ‘n wanaangepaste sonstraal dit waag om my sensitiewe wit velletjie te klits dat ek weer soos Kersfees kalkoen lyk en vroeë veroudering teweegbring wat weer in hierdie oneindige verwoede bose kringloop van nog creampies ontaard.

Daar is roompies en goetertjies om enige verwese, saai vakansiebadkamer in ‘n oase van vroueregte te laat ontpop! Tot kerse (net ingeval die gasheer of gasvrou nie sensitief genoeg was om in ag te neem dat ons vroumense van bad hou en net soggens wil stort om ons hare gewas te kry). En hierdie ronde lyfie van my hou van ‘soak’ in die bad. (Nie heeltemal soos wit wasgoed in Jik nie, maar meer soos ‘n marshmallow in hot chocolate!)

En natuurlik (in die vae hoop van ‘n regte bad), ‘n borrelbadjie en ‘n olietjie en badsoutjie om die geur en reuk van vrouwees goed in die sisteem op te neem sodat ons op ‘n duisend seemyl soos ‘n aanloklike, begeerlike, mistieke nimf kan ruik. (Nie dat dit nog ooit vir my gewerk het nie … ek dink my kinders het in onsigbare ink wat hubare mans van my ouderdom {eintlik van enige ouderdom want ek staan nader aan die halfeeu as wat ek wil voorgee} kan raaksien en lees, in groot vet letters geskryf “Stay Away”).

Dus het ek sommer al vroeg in my nuutgevonde vryheid geleer om doodeenvoudig myself te loop en besnuif oorlaat ek vir myself lekker ruik. Dit het nou al ‘n paar fronse by sekere mense uitgelok, maar ek kan nie toelaat dat goeie goed so vermors nie. (Ek wonder hoe sal hulle reageer as ek na hulle toe loop en vra: “Nou toe! Hoe ruik ek?”. Miskien sal hulle net daar die groendakkies loop bel. Ek moet sê, ek is nogal tempted … hmmm.)

O ja! Die pakkery!

Dan is daar natuurlik net twee kleretasse. Die rooie het al die klere in wat ‘n betaamlike ma sal dra met vakansie, sodat haar nog vis nog vlees tienerseun darem nie sy oë in skaamte sal sak vir sy ma se outydsgeit of te hipgeit nie. Niks hang uit nie en dit lyk soos mamma-klere. Plein soos blerrie daglig … dis so ‘n goed gebalanseerde mengsel van wat ‘in’ is, maar met ‘n tikkie konserwatiwiteit en beskeienheid vir die hoendervlerkies onder die arms en die cleavage (wat begin afsak nader aan my laer diafragma as wat nodig is). Alles is ‘gecover’! Die tipe klere wat my kind met trots na ‘ma’ verwys want die ligtoring het meer oemf as ek in my moederspakkies.

Daar is kniebroeke met belde in, T-hempies wat mens kan ‘layer’ sodat goed op hulle plekke bly en mens die lekkerleef en min oefening deur die jaar, makliker kan wegsteek. Vreeslik oulik!

In die ander sak, wat seker van ‘n plastiek Ngunikoei afkom (klink amper soos ‘n moderne ouer vrou se beskrywing … dalk is dit wat ons is!), is ma se ‘tweede’ vakansie se klere.

Dis in hierdie sak waar sy nie ‘n flenter omgee wat die kinders te sê het nie. Daar is nog steeds die basiese goeters soos ‘n paar kniebroeke (net hierdie sonder belde wat mense alewig pla as jy baie, baie vinnig na die “Ladies” toe moet hardloop), lekker los katoentoppies wat so romanties kan fladder in die wind, effe die cleavage vertoon teen sagte kanterige soompies, serpe en hippie-klere wat parmantig die ‘middle-aged spread’ soos die kunstigheid van ‘n goeie bronsbeeld kan vertoon. Ingesluit in die tas is ma se honderd en een stringe pêrels, wat soos sy teen haar vel voel (my tienerseun dink pêrels is dinosaurusdrolle) en wat ek dan ook almal saam of nie dra. Laastens, ‘n bottel ‘Midnight Poison’ van Christian Dior, vir ag, sommer net vir sommer.

En dan is daar die tradisionele plastieksakke van elke winkel onder die son: Woolworths, Pick ‘n Pay, Checkers, Spar, Out of the Blue, Exclusive Books, Musica en die een sonder ‘branding’ wat mens by die bottelstoor kry, vir ma se kasarm goeters wat sy wil doen met vakansie … boeklees, skryf, teken, inkleur, naels verf, eet, padsoek, blyplekboeke, kontreiboeke, resepteboeke vir vars seevis en allerlei noodsaaklikhede vir die moderne ma; wat ‘n helse innerlike (en uiterlike) stoeigeveg aan het – omdat sy glad nie ‘domesticated’ is nie.

Maar ek was besig met die pakkery!

So het ek ‘n hele reeks sakke (elk vir ‘n spesifieke doel) by die deur in pragtige rye gepak sodat dit makliker by die motor kan uitkom. Daarnaas het ek die coolerbox, die kosboks en die swartsakke met allerlei debris (ek ken nie ‘n ander woord vir die goed wat seuns hulleself mee vermaak en versamel nie) – dis boogie boards en snorkels en ketties en visstokke en goeters wat ek geen idee het hoe dit in ‘n kar gepak moet word nie. (Ek was nie altyd single nie, dis maar ‘n redelike onlangse ding – ja, ja! Agtien maande onlangs, maar hoeveel keer gaan ‘n mens met vakansie per jaar. Dis my eerste keer met my seun en sy maatjie. Give me a break!)

Die twee seuns is opgekommandeer om die klomp goed af te dra kar toe en ek het gemeet en gepas om dit wat saam met my moet gaan eerste in die agterent van my SUV in te wurg en heel voor (wat eintlik heel agter in die voertuig is) het ek die seuns se goed gepak sodat ek nou nie alles moet uitpak by die lughawe nie (en natuurlik sodat niemand moet dink ek is onhandig nie).  Daai dessitse ding (dat ek onhanding is) wat my vorige eggenoot in my kop ingeprent het refrein gereeld en onverwags on my ore, net sodat ek my van vooraf vererg en vir myself dan wil bewys dat ek KAN!

Ons is sonder brekfis (ek gaan wragtig nie nog staan en skottelgoed was nie), weg uit die wit-en-swart-huisiebuurt van St Francis, doelgerig oppad terug Baai toe.

Ek het darem halfpad stilgehou dat ek die luidrugtige mae wat so gekners het, met ‘n ordentlik spek-en-eier ontbyt kon opvul wat sou hou tot ons die rendezvous (niks hou in die kinders se mae nie … ek vermoed dit ‘evaporate’ – seker maar al die gemors wat hulle deesdae in ons kos sit).

Dit was maar stil in die kar. Ek weet nie of hulle twee verlig was om van my ontslae te raak of ek van hulle nie, maar daar was so ‘n diep respek gemoed wat in die kar se lug gehang het. (Moenie my verkeerd verstaan nie – ek is baie lief vir die manne, maar ek is onkundig in hulle belangstellings – girls! girls! girls! en dan girls! – ek raak vreeslik vinnig verveeld met die verskeidenheid van belangstellings wat hulle het.

So het ons dan betyds op die lughawe gekom (Dankie Garmin!) en ek het baie georganiseerd die twee gestuur om vir hulself elkeen ‘n bagasietrollie te gaan haal sodat ek die bagasie dan ook apart kan aflaai.

Natuurlik moes daar weer op die laaste oomblik onthou word van die vreeslike eina-sny op die voet wat skielik weer pyn en verbind moet word en daar is die hele grênd gepakkery van my in sy peetjie in, want ek het die skêr heel onder in die creampiesak gepak. Die was beslis nie binne gerieflike bereik nie.

Ek moes die hele lot sakke uitpak (ja, net daar, ten aanskou van die hele PE gemeenskap!) in die parkeerarea. Dit laat my voel of ek my bra en panties vir die hele wêreld uithang en wys, so dit krap my gewoonlik hewiglik om as ek sulke goed moet doen. Dis juis hoekom ek hierdie trokkie van my so laaik, want sy spaarwiel sit onder die bak en ek hoef nie vir die wêreld my agterent uit te pak nie.

Nietemin … met Huggies Wipes, Savlon, Zambuk en pleisters het ek die pyn soos ‘n meester verlig en ons drie het afgesit na die lughawegebou waar ek reg was vir traan of lag (dis nou my eie traan of lag want ek het nie regtig geweet hoe voel ek oor ‘n paar goed nie – my kind se pa sien, my kind afsien, Jakkie op die vliegtuig sit, alleen wees – sommer die hele kaboel).

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s