Normale Ma’s

My seun het al wragtig ‘n slag vir my gevra wanneer ek ‘n “normale” ma gaan wees. Ja, die het hy gevra terwyl hy so aanhalingstekens in die lug maak. Ek was so oorweldig deur die gelaaide vraag dat ek onmiddelik ‘n maagsweer ontwikkel het, maar ek het my trots gesluk en gevra wat ‘n “normale” ma is en wat sy doen?

In sy reguit, onsimpatieke en baie ernstige antwoord het daar vir my ‘n hele nuwe wêreld oopgegaan – ‘n “normale” ma neem elke oggend haar kinders skool toe – ek het net een op skool en ek betaal sy suster om hom skool toe te vat, want ek hou van inlê!

‘n Normale ma loop ook saam met haar brose bloedjies klas toe terwyl sy hulle tassies en kospakkies dra. OK!  Daar sien ek nou my gat twee keer. Ek dra niks vir niemand rond nie! Jy het hande en voete gekry. Ek het ook ‘n reëling met die bekwame tannie van die snoepie om my kind van ‘n redelike gebalanseerde dieët van varsgemaakte tramezinnis, broodjies en vrugteslaai te voorsien, want ekself verpes ‘n 3-uur oue toebroodjie.

Hierdie pronkerige normale ma spesie, neem ook dan gister se vuil handdoekies by die juffrou af, sodat sy dit tuis kan gaan was. (Se gat! Is my opinie – niemand was my vuil handdoekies nie en jy moet sien wat ‘n klomp seunskinders met handdoeke maak, veral as daar ‘n splashpool op die werf is. (Dis ‘n ander storie!)  Ek kry nie eers tyd om myself behoorlik in ‘n bad te laat ‘soak’ nie, watwou ‘n klomp besmeerde kinderhanddoeke van die skool af.

Sy ken elke juffrou op haar voor en agternaam – Marie Melktert, Saartjie Soetdoringboom en Willa Weetals. Weereens NUL vir my!– ek onthou net my beste vriende en kollegas se name en dit as ek onder druk verkeer. Verder is ek bitter bly ek het een seun en een dogter, want ek sou seker daar ook vergeet het wie is wie.

Eenuur kom haal “normale” ma’s hulle kinders by die skool, neem hulle McDonalds toe vir ietsie om te eet en bring hulle dan in hulle sportklere terug vir die naskoolse bedrywighede. (Ding Dong! Nul vir my! Ek stuur of my assistent of my dogter of een van die kleinneefs, wie ookal beskikbaar is, gewoonlik ter elfder ure om enige sulke krissise af te wend want ek kry nie my dinges uit die kantoor uit nie!). Ek moet in die sweet van my aangesig my brood verdien … eight to five … everyday, Monday to Friday.

My kind, pragtige dingetjie, ry boonop bus van die skool af en word voor die hek afgelaai. Ek erken, ek het die skool met bazooka en TNT gedreig en het vertel hoe onverantwoordelik dit is in die ryp seisoen van pedofielie in ons land (ek het nie vergeet van die Haarhoff-van Rooyen Bonnie en Clyde nie) om kinders sommer netso op straathoeke af te laai en as my kind iets oorkom, hulle vir lank aaneen gaan bid dat ek nie so goedmoedig was om soveel vertroue in hulle te stel toe ek ‘n kleinhuisie vol geld betaal het om hom in daardie spesiale skool in te skryf nie. Vat aan my kinders en ek haal jou oë heel eerste uit – met my tande!

Nou ja! Ek moes (na baie Prozac vir skuldgevoelens) my kind mooi neersit en vir hom vertel (en seker vir die res van sy lewe teleurstel) dat ek nooit ‘n normale ma gaan wees nie. Ek kan net die beste wat ek kan wees, want ek was nie slim genoeg om ‘n ryk man te trou nie, of met minder tevrede te wees nie en ek het hopeloos te veel ondernemingsgees gekry om langer as ‘n dag op my dinges te sit.

(Ek moes toe maar ook beken dat ek net 13 dae kraamverlof met hom gehad het. Want toe is al die kaste in die huis reggepak, elke hoek en draai met ‘n vergrootglas gestofsuig, elke gordyn en handdoek en bed-ding gewas en gestryk, en na die tweede dag van niksdoen, toe wil ek mure klim en klim ek in my kar, baby and all, en gaan werk!). (Moet in hemelsnaam nie vir die Departement van Arbeid sê nie, want hulle het mos ‘n spul reëls vir ‘n spul mense wat van niksdoen hou.)

Persoonlik dink ek dat ek my kinders ‘n onreg sou aangedoen het as ek gewaag het om ‘n “normale” ma te wees. Ek sou heeldag loop en gil oor huiswerk wat gedoen moes word in skoonskrif wat Livingstone sou beindruk het, oor alles een honderd persent op hulle plek moes wees. Dink net aan die vloermoere wat ek sou gegooi het as ek net moes kinders oppas en man grootmaak, of is dit nou andersom?

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s