Coca-Cola (met suiker)

My trokkie (dis nou my Fortuner) se alarm se deuntjie klink vir my vir die eerste keer soos ‘n melodie toe ek hom die gewone tjirs gee met die knoppie en ek spring, ligvoets soos ‘n steenbokkie, in die bestuurderssitplek. Ek druk die sleutel in, gooi my handsak op die sitplek langs my en ek lag so kliphard uit my maag uit. Ek onthou nou – dis lekker om te lewe en te wees en te is. Ek draai daai sleutel en ry versigtig weg van die ontmoetingsplek en die bevrydingsstasie.

Twee maande gelede het ek nog dag en nag gewroeg met my verlede. Daar is nie ‘n terapeut wat ek nie gesien het nie (die een gee mos aanleiding tot die ander).

Ek was in terapie vandat ek drie en ‘n half jaar terug net besluit het – genoeg is ook genoeg! Dit het my meer as ses maande geneem om na die laaste ‘aanslag’ en uitbuiting en afdreiging te besluit – ek loop NOU!  En ek het.

Volgens hom (ek weet nie van ‘n sagter term om na hom te verwys nie en tot ek aan een dink, gaan ek maar net van hom praat), was ek ‘n lafaard omdat hy op daardie stadium in een of ander vreemde land gesit het en ek hom (oor hy my oor die foon gepes het) gesê het dat ek dink dis tyd dat ons paaie maar elkeen sy eie rigting gaan.

Maar, in my beskeie persoonlike opinie, was ek nie so ‘n lafaard nie. Ek sou hom eerstens nie gesê het as hy my nie so gepes het nie en ek sou gewag het tot hy weer terug is in ons moederland. En toe hy wel hier aankom, het ek huis toe gegaan en hom vierkantig in die oë gekyk. Nodeloos, het ek behoorlik daar weggevlug met twee jeans en twee toppies (nie naastenby my tradisionele vakansie trousseau nie) en ‘n stel pajamas want voor ek kon verder pak, het die hele ding weer aggressief en lelik begin raak.

Natuurlik is ek van alles hoog en laag beskuldig, maar ek is na my pa toe. Na jare en jare se stilbly (geloof, hoop en liefde!) het ek uiteindelik my pa vertel van wat eintlik in my huis aangegaan het. As daar maar net ’n ander man was, sou dit soveel makliker gewees het om vertroosting te vind, maar daar was nie – dit was net ek en ek moes iewers ‘n safe place kry.

Die het ek ook sommer die volgende week gekry. So ‘n verpiepte tweeslaapkamerplekkie, met net die bank wat ek by die huis gevat het, maar weggesteek sodat ek kon begin herstel van die jare se skade.

Vir die eerste ses maande het ek vir niemand gesê waar ek bly nie. Ek het vriendinne by koffiewinkels ontmoet, by hulle huise gaan kuier en soos ‘n verskrikte immigrant in my gat ingekruip.

Daar het ek die eerste voorsmakie van vryheid beleef. Ek het so twee uur die oggend wakker geskrik en was dors. Ek het saggies opgestaan, kombuis toe geloop en die yskas oopgemaak sodat ek ‘n glas uit die kas kon haal. Toe bars ek uit van die lag, want vir wat sal ek nou, hier op my eie, in die middel van die nag soos ‘n skelm rondsluip en nie ligte aansit nie … pure gewoonte omdat ek alewig op geskreeu is as ek so ‘n min-slaap nag beleef het.

Ek het sommer dadelik al die ligte aangeskakel, sommer die TV ook en in plaas van die gewone glas kraanwater intap, het ek vir my ‘n reuseglas Coca-Cola ingegooi! Die MET suiker!!! En ek het die res van die aand nie gaan slaap nie. Ek het bietjie menswees gevier. Yummity, yum, yum!

Die volgende oggend het ek sommer die bed so onopgemaak gelos, my slaapklere in die middel van die gang uitgetrek en net daar neergeboender en met oop deure en alles wat raas, gaan stort. Dit het sommer vir drie dae so aangehou, totdat die hoop in die gang ‘n veiligheidsrisiko geword het.

Maar dit was ‘n WOW oomblik vir my. Ek het heeltemal vergeet hoe voel vryheid en lekkerkry … tot op daardie moment! (Is dit nie hoe mens moet voel al is daar niemand wat kaalvoet in jou hart rondloop nie?)

Dit was nie die slordigheid nie (ek weet van die seven deadly sins! En sloth!), maar die gerustheid dat watookal ek doen my besluit is en dit in so ‘n geval dan ‘goed genoeg’ is. Wieookal die ‘goed genoeg’ persoon was in sy lewe (ons noem haar sommer Gigi), was ‘n skynbeeld met wie ek 15 jaar gekompeteer het en teen wie ek elke kompetisie verloor het. Dis ‘n magtelose gevoel en hel om uit weg te kom, maar soos ‘n vriend van my eendag gesê het – If you are going through hell, just keep going!

Uiteindelik het ek ingegee en ingestem dat ons vir berading gaan op voorwaarde dat hy die berader kies en die reëlings tref. Ek was nie van plan om in daardie slaggat te trap van dat ek die berader kies en dan hoor ek nou weer na die tyd hy/sy was eintlik meer aan my kant nie. Ons het by ‘n baie bekwame berader uitgekom en elke week met toets en taak gegaan om ons verhouding weer te herstel.

Die eerste dag van Desember 2008 het ek teruggetrek, maar ek het op die trap in my woonstelletjie gesit en snot en trane gehuil oor ek hierdie plek van vrede moet verlaat. Dit was vir my so ‘n hartseer dag, want ek het in die 9 maande wat ek uit die huis uit getrek het, so baie, baie gelukkig om saans in rus en vrede in my bed te klim en salig te slaap.

Dit het goed gegaan daardie Desember, maar ek het geweet die toets gaan kom sodra die lewe terugkeer na normaal toe. By die einde Februarie, was dit soos dit altyd was. Dit was ook nie ‘n verrassing nie, want ek het baie beloftes gehoor, maar min gesien gebeur. Hierdie keer was dit ook so. Tog was ek bly dat ek myself die geleentheid gegun het om my huwelik ‘n behoorlike kans te gee. Die eerste Augustus 2009, het ek vir die laaste keer uitgetrek. Dis toe dat die groot tog begin het.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s