Baai baai rendezvous

Ek het gelees van ‘eat, pray, love’ se vrouhaftige tog na Italië, Indië en Indonesië. Die hele ontdekkingsreis wat sy geneem het om haarself en haar geluk te vind. Ek, as vrou, het elke ervaring met ‘n tikkie jaloersheid gelees, want om ‘n jaar uit my lewe uit te kan neem om te reis en skryf, is slegs ‘n veraf wens wat ek voor sal moet wag.

Boeke is vir my ‘n ontvlugting, ‘n reis na ‘n onbekende plek, vol nuwe mense en nuwe dinge wat ek graag in my gedagtes teken en inkleur. Dus, toe ek my eerste groot ‘journeys’ moes neem, het ek dit meesal in boeke gedoen – ek het begin lees en pens-en-pootjies in die storie geklim, fiskie, feit of fiasko! Op ‘n stadium, was dit vir my baie noodsaaklik om boeke te lees en te ontsnap uit die hel waarin ek my bevind het.

Wat my veral opgeval het, was die boeke oor vroue wat hulself wou vind en drie maande, ‘n jaar of twee ‘afgevat’ het van hulle lewe om te reis, om ‘n ongewone doelwit te bereik en dan te skryf. Dit het my voorgekom dat elkeen van hulle ‘n geheime, onuitputlike bron van geld en ondersteuning gehad het om hierdie ‘journeys’ te onderneem.

En moet my nie verkeerd verstaan nie, hierdie is formidabele vroue wat ‘n moeilike stap-of klimtog onderneem het deur lande of oor berge, met niks meer as ‘n g-string en ‘n alpakka-jassie nie. Ek het groot bewondering vir hierdie vroue, want dis nie ‘n alledaagse dink om die magtige natuur kaalhande te probeer aanpak nie.

Ek ys wanneer ek die woord ‘kampeer’ hoor en sien gewoonlik voor my geestesoog hoe ek heeldag met die besem in die hand staan om die sand van die grondseil af vee, en saans in my eie slaapsak vasgeknoop raak omdat ek vinnig moet opstaan vir my nagtelike toiletbesoek – watwou van ’n hele bergreeks klim of stap!

Maar meestal was ek groen van jaloesie omdat hulle so kon wegloop van alles en almal af om hulsef te vind. As ek dit wou doen, moes ek ten minste nog 5 jaar wag vir my jongste om groot te word, maar by dan sal ek oor die halfwatermerk wees. Dalk sal dit dan net te bleddie laat wees vir ‘n ordentlike ‘journey’ en wie weet, dalk moet ek dit met ‘n kierie aanpak, wat beslis nie glamorous klink nie.

Ek, ma van twee, ouma van een en midde-in my veertigs, werk saam met familie in ‘n besigheid. Ek moet ouma, ma, suster, dogter, peetma, besigheidsvrou, kindertaxi, student, onderwyser, filosoof en pa speel (onder andere).

Ek is bevoorreg om my pa nog te hê en ons twee-keer-‘n-week-koffiedrink-ritueel is kosbare oomblikke saam met hom en my ma. My enigste broer en my pa is ook my besigheidsvennote en ons bou nog aan ‘n toekoms, dus kan ek ook nie skielik al my werk op hulle skouers laai nie. Daarbenewens, moet ek nog my seun grootmaak en my kleinkind bederf. Boonop alles, het ek ingeskryf om my graad te verwerf, want ek het nie na skool verder gaan leer nie –  ek het nie toe geweet wat ek wou wees nie. Ek is ook pas geskei en die skeisaak gaan ook nie genoegsaam oplewer om ‘n sponsorship te veroorsaak nie, want daar is ‘n geweldige string argumente oor die blou tupperbakkie en daai groen teelepel.

Met ander woorde, ek staan aan die voetenent van ‘n nuwe lewe, met ‘n bed wat klaar opgemaak is en ek het nie ‘n ander uitweg as om te werk vir my geld nie.

Maar ek het beslis ‘n ‘journey’ nodig, want ek het myself deeglik verloor en besef dat ek myself en my voete gaan moet vind, al moet ek in elke skrefie en greintjie gaan krap en grawe na dit wat my menswees en vrouwees veronderstel is om te wees. Dit het ongelukkig heeltemal verlore geraak in die helse huwelike en dit gaan diep krap kos om dit  raak en oop te krap. Hoe nou gemaak?

Ek sien ook nie kans vir ‘n bergreeks nie, tensy dit per helikopter is en stel geensins belang in g-strings, alpakka-jassies of om kaalvoet oor die Drakensberge te neuk nie.

My verskoning is dat ek half Engels is en dit ieder geval net die boere die bliksem in gaan maak as ek so ‘n onoorspronklike tog aanpak wat dapper vroue van geskiedenistye so manhaftig moes doen om ‘n punt te bewys. Hulle gaan niks daarvan hou as ‘n ‘halfbreed’ soos ek dit nou gaan copy cat nie. En dit vat ook seker nie meer weke nie want ek besit nie ‘n ossewa nie. My trokkie is ‘n 4×4 en dus is dit bietjie onregverdig. (Nie dat ek nou al daardie kursus voltooi het nie – maar ek gaan nog!)

Ek kan seker ook Kilimanjaro gaan uitklim en daarop aanspraak maak dat die of daai spesifieke miskruier se bolletjie stront vir my so ‘n significant oomblik veroorsaak het dat ek van nou af al my beenhare bokant my knieë ook gaan afskeer om my te herinner aan die skoonheid daarvan of die grootheid van die oomblik of watookal dit moes wees. Maar te oordeel aan die volopheid van die Kilimadjaro T-hemde wat ek deesdae opmerk reken ek nie eers dit is meer ‘n uitdaging nie. (Ja-nee ou girl, jy lees heeltemal te veel storieboeke en Dan Brown se invloed skyn nou regdeur jou goeters hier … jy is nie ‘n Templar nie!)

‘n Kaalgat, ek bedoel, kaalvoettog deur die Kalahari was nog ‘n idee, maar ek het Discovery channel en ek het gesien watse snaakse slange en goeters vroetel hulleself so die sand in en wag net vir ‘n onskuldig prooi (wat ek kan wees!) om op hulle te trap. Daardie Ultimate Survival program is ‘n bliksem om te kyk. Wys vir jou alles wat wel kan verkeerd gaan en jy gaan daardie peperduur manikuur ook moet koebaaiwaai, want jou naeltjies gaan afbreek van grou in die sand sonder ‘n graaf! Ek het absoluut geen begeerte om my lewe as enige iets se middaghappie te beëindig nie.

Maar, helaas, ek kon net nie aan ‘n uitweg dink om hierdie langverlofverskoning te bewerkstellig nie. Ek is ‘n ma, ‘n ouma, ‘n vennoot, ‘n dogter, ‘n suster en ‘n paar ander goed vir baie mense vir wie ek beslis nie in die steek wil laat nie. My lewe en my realiteit kan ek nie ontvlug nie. As ek myself moet vind, beter ek dit hier op eie turf doen, want nêrens anders gaan vir my lekker werk nie. (Dink net hoe in die gesig gevat gaan my ‘guru’ voel as ek vir hom sê ek kan nie vandag saam met hom transporteer na ‘n beter plek nie want daar is moeilikheid by die huis en ek moet my e-mails lees en my kinders bel en op hulle skree.)

Dit gaan ‘n heilige gemors afgee as ek die Cam-watookal pelgrimsreis in Spanje gaan aanpak en halfpad die berg op beswyk aan ‘n hartaanval (want ek rook en drink coke en eet rooivleis), terwyl my seun sy eerste meisie wil warm vry en sy hartprobleme uit ‘n ander oord uitkom. Nee wat, as ek dinge moet in die oë kyk, beter ek sorg dat daai oë is waar ek is sodat ek kan doen wat ek moet doen daar waar ek is.

En daarvoor het hierdie geleentheid oor die Kersseisoen van 2010 hom voorgedoen.

‘n Lang, salige tyd … net vir my. Nie kind of kraai of ‘n krismisboom of enige goed wat mens se kop vol clutter maak nie. Dis ek, my trokkie en die lang lekker pad deur die kragtige Karoo! Ek sien so uit dat ek amper moet stop om ‘n kateter te laat insit.

En nee! Ek hol nie weg van my probleme of my pyn of my verantwoordelikhede nie … inteendeel! Ek hardloop voluit na MYSELF toe. Ek was so lank weg dat ek nie eers seker meer is of ‘n lekker hardgebakte toasted cheese en ‘n coke, nog my gunsteling kos is nie!

Ek is oppad na MY toe! Die vrou wat ek agtergelaat het om kinders en man groot te maak, te onthaal en te vereer dit wat teen my grein was. Ek soek vir my en ek wil met my so intiem verkeer dat daar niks meer donker hoekies in my siel oor is nie. Ek wil lig op die saak werp.

En as ek my kan kry, trap ek die versneller op die grootpad wat lei na Patensie, waar daar niks en niemand is wat my ken nie.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s