Speldeprikke en Speeches

My lewe het al vieslike draaie met my geloop en van die ‘golden thread’ is daar net mooi niks te sien nie. Dis meer soos ‘n tappeserie met min tot niks wat enige noemenswaardige patroon maak nie – ‘n bontespul van haak en steek. Maar dit is nie omdat daar enige iets met my kinderlewe fout was nie.

Was ek bang vir my pa? O ja! Ek is met sy pakslae gedreig as ek stout was, en as ek ou goed aangejaag het, was dit eers erg! Dit het beteken ek gaan ‘n speech ook kry en my pa is ‘n meester. Dis nie ‘n moangat speech nie, eerder ‘n diep filosofiese gesprek oor hoe teleurstellend jou gedrag was en hoe dit jou nie op die lange duur gaan baat nie.

Pak slae was min in ons huis, maar daardie speeches bly nou al van kindsbeen af in my kop en keer steeds dat ek aanjaag. My pa weet hoe om jou soos wurmbollie te laat voel sonder om ‘n hand te lig. (Selfs nou, op my rype ouderdom! I can only stand back in awe of the man!)

Moenie my verkeerd verstaan nie. Ek het nie ‘n bullebak, aggressiewe pa nie. Inteendeel, my pa is die grootste gentleman wat ek ken (seker diè dat ek so skepties is dat daar nog van hulle oor is). Hy is ‘n sagte mens met ‘n ongelooflike hart en eindlose plek in my lewe. Hy bly omtrent regoor die straat van my en ek boer by hom vir koffie en klets! Vandag het ons nog ‘speeches’, maar dis meer lang gesprekke oor beginsels en waardes en hoe mens die lewe moet embrace. Ek het geen scars van my kindwees en grootword dae nie. My pa het my hart in sy plek gesit … en dis ‘n wonderlike, goeie, mooi hart.

Was ek bang vir my ma? Nie eintlik nie. Sy kon lekker gil en skree, maar eintlik was sy ‘harmless’. En, in haar defense, sy was ook ‘n vrou, geskoei in die kultuur dat vrouens hulle mans onderdanig moet wees. Vreeslik cheeky en jy sal nie aan haar kuikens vat nie, want sy sal vir jou uithaal! En doekies omdraai het sy ook nie gedoen nie, sy het vir jou in plein, reguit Afrikaans presies gesê wat haar of jou moeilikheid is met watookal sy ‘n issue gehad het.

Ek het baie jare na ‘n insident eers uitgevind uit watse stoffasie my ma gemaak was. Ek was nog op hoërskool – daar diep in die stofbelaaide mielielande van ‘n myndorpie – yskoue winde oor afgemaaide mielielande het ons geplaag in die hoëveldwinters. Die skool vergun dat ons meisiekinders langbroeke mag dra in die winter. Nou ja, soos dit maar is, moet dit spesifieke broeke wees – met ‘n rits aan die sykant, nie aan die voorkant en dit moet by die dorp se skooluitrusters aangekoop word. Maar hier is ‘n merske probleem, want my ma werk in Johannesburg en sy moet omtrent ‘n dag afvat om vir my ‘n stupid skoolbroek met ‘n rits aan die sykant te gaan koop. En my ma vat nie sommer by die werk af nie!

Ons sit toe een Saterdag, wat my ma af is by die werk, af na die skooluitrusters toe, maar toe ons nou daar uitkom, het hulle nie meer my grootte nie. Dit is uitverkoop! (Dikgat! Maar duidelik is ek nie die enigste dikke in die skool nie, anders sou daar mos nog sulke groottes in die winkel gewees het). Ma vertel hulle toe mooi (terwyl ek maar eenkant staan en grond toe kyk) van voorraadbeheer en aankope en maak seker hulle verstaan hoe onbevoeg hulle is – en ons marseer daar uit. Die Maandag gaan my liewe ma Truworths toe in Johannesburg (in haar lunchtyd) en koop vir my twee donkerbruinbroeke vir skool – met ‘n rits aan die voorkant.

Ek het geprotesteer oor die broeke, maar my ma het ook nie maklik néé gevat vir ‘n antwoord nie, en ek trek toe maar my nuwe langbroek aan en is in trane hiermee skool toe. Wrintiewaar word ek toe nou uit die rye uitgeruk vir my ‘onbetaamlike kleredrag’, wat nogal sinspeel op my waardeloosheid en dat ordentlike dogters nie sulke broeke dra nie. (Moet sê, dít was nogal ‘n surprise vir my), Diè aand dra ek die boodskap aan my ma oor toe sy 7 uur die aand uiteindelik van die werk af by die huis aankom. My ma skiet toe ‘n gasket soos ek nog min gesien het.

Die volgende dag, is ek weer skool toe met my onbetaamlike broek en ek is bang verby, maar niemand haal my uit die rye uit nie, niemand sê ‘n enkele woord oor my broek nie en niemand kyk eers namy kant toe nie. Ek is effe confused, maar ek dog – dalk het Juffrou de Kock se bril ‘n skoonmaak nodig of sy is oor die probleem van waar ‘n broek se zip nou sit. Ek vermoed niks, vra ook nie en neem toe maar aan dat daar vrede gemaak is met my onbetaamlikheid. Jare later vind ek eers uit dat my ma die skool gebel het en so amok gemaak het dat hulle sommer die skoolreëls verander het, want nie een van die skoolpersoneel het gedink dat dit ‘n goeie idee is enige leerling se persoonlike shopper te word nie.

‘n Formidable vrou was my ma beslis, met wicked ways! Jy kan nie anders om die vrou te bewonder nie en alhoewel sy nie meer die aarde se stof van haar voete afskud nie, dink ek die hemel is ‘n beter plek vandat sy daar is – kleredrag is sekerlik nie daar ‘n issue nie. My ma is dan ook vanwaar my bek so glad is en ek my man kan staan in enige situasie. Ekke is cheeky en wise-ass (… apparently). Ek mis haar.

My oupa en ouma het ook by ons gebly en oupa was my sielskos. Hy was 4 uur in die middag by die huis en an het hy al my huiswerk gecheck en my vrae gevra vir my toetse wat ek moes skryf. En moet nie dink oupa was ‘easy’ nie – as daar ‘n honderd vrae was, moes ek al honderd reg antwoord. As ek dit nie reg antwoord nie, dan gee hy my boek vir my terug en ek moet weer gaan leer. Maar hy het my lief gemaak vir leer en lees. Sy geduld en deernis het my geskoei om die eenvoud van die lewe raak te sien en te waardeer. My oupa het my ‘the law of the farm’ geleer, lank voor Stephen Covey a boek daaroor geskryf het. Sy groentetuin was sy trots en ons het baie tyd daar deurgebring, sade geplant, toegegooi, water gegee, baba-plantjies opgepas en elke dag gaan besoek aflê. My oupa het nooit deurmekaargeraak met wat reg en verkeerd is nie. Hy het ook geglo dat twee verkeerde goed nie ‘n regte ding maak nie. By my oupa het ek geleer wat vir my reg en verkeerd in die lewe is. Hy het my ook geleer  om te aanvaar wanneer iets nie verander kan word nie (soos as baie reen die groentetuin wegspoel) – dan word jy nie kwaad nie, jy probeer weer.

My ouma, klein en kort en huisvrou al haar lewe, was ‘n ander saak. Daardie klein rissiepit het vir my goeie maniere geleer! En hoe! Sy’t nie geslaan nie. (Ek dink sy het baie gou in haar lewe vrede gemaak met die feit dat sy net ‘n poep en ‘n baksteen hoog is en dat violence haar nêrens gaan bring nie, toe invent sy die ‘power of the pin’!)

Ouma het my grootgemaak. As ek smiddae van die skool af deur die laaste stuk stofpad, moeg en moedeloos en oorverhit van die skool af gekom het, was my ouma daar met die  lafenis van ‘n koppie tee. (Ek het nog nooit weer in my lewe sulke lekker tee gedrink nie en om my teleurstelling in mense se onkunde van teemaak te wys, suip ek nou net koffie!) En dan waas daar die heerlikste, mees watertandmiddagete vir my voorgesit. My gunsteling was visvingers met kaas (sjoe, ek kry sommer nou lus daarvoor).

Ouma was baie lief en dierbaar, en sy kon stout wees (mooi stout) en het jou gereeld ‘n poets gebak. Maar behoede vir jou as jy ongeskik of ongehoorsaam was. Dan het sy haar most lethal weapon – ‘n kopspeld – uit haar overall se collar gehaal en jou op die buitekant van die hand geprik. Geprik! Nie gesteek dat die bloed loop nie! En magtig was dit effektief? Sy moes net mik vir daardie speld, dan steek jy al hande weg, sê dat jy verstaan dat jou gedrag verkeerd was en dat jy bitter jammer is daaroor –  no compromise. En as jy nie wil jammer sê nie, dan het jy nie eers ‘n kyk by haar gekry nie, sy het jou ignoreer asof jy nie bestaan nie en dit was ‘n verskriklike gevoel. Die enigste manier om weer enige iets uit haar uit te kry, was om jou jammer te gaan sê. Kyk, sy moes ‘n boek geskryf het want sy het geweet van kinders grootmaak, beter as enige opvoedkundige. Sy het nooit geskree nie en nooit ooit geslaan nie. (Nie eers my wetterse boetie wat ‘n pyromaniac van formaat was nie … vir hom het sy sommer aan die kombuistafel se poot vasgebind as hy so onmoontlik geraak het.)

By my liefste oumatjie het ek geleer om uit en in liefde te leef, maar dat as jy iets verkeerd doen, moet jy jou shit gaan face en jammer sê uit jou hart uit.

Tussen hierdie vier wonderlike mense, is ek grootgemaak en ek beskou dit as ‘n voorreg. Met hulle speldeprikke en speeches het hulle my opgevoed en my geleer hoe mooi my lewe se wild and wonderful tapeserie eintlik is.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s