Eet, vreet, leef

Voorwoord

Die is nie sommer enige blog nie. Dis so ‘n joernalerige, storierige versameling opstelle en skrywes wat my uitlaatklep was vir baie dinge wat my gepla het en waaroor ek ‘n stewige greep verstaan moes kry.

Dis dan ook in my kombuistaal geskrywe. Daarby bedoel ek nie dat enige taal ‘n spesifieke vlak van belangrikheid het nie. Inteendeel, ek praat gewoonweg so deurmekaar.

Deels is dit my ouerhuis se skuld (jammer Ma, jammer Pa) oor ons so Engels en Afrikaans gelykertyd was en deels is dit die besigheidswêreld se skuld. Dit het my taal geword en ek noem dit sommer Afrish.

Maar dis nou genoeg oor die taal. Ek vra nie daarvoor verskoning nie. Ek voel net dat as ons mekaar eendag oor ‘n koppie koffie ontmoet, dan skrik jy nie as ek nie suiwer Afrikaans of Engels praat nie.

Elke mens het ‘n storie. Elkeen van ons wroeg met die pad wat ons gestap het, tot waar ons nou is. Ons stoei en ons klou en ons laat los, maar uiteindelik moet ons aanvaar dat dit is wat dit is. Elke swarigheid, elke traan word nie verniet losgelaat nie. Dit het ‘n doel en daar is ‘n silwer randjie. En, gelukkig, wanneer ons terugkyk, kan ons soms die humor in die hele ding sien.

En dis waar die blog sy ontstaan het.

Ingeweef in van die stories is mense wat geen titel of stand het nie. Doodgewone, wonderlike mense wat nie skroom om ‘n traan af te vee of ‘n sagte hand te verleen nie.

Julle weet wie julle is en ek is vir julle baie, baie lief en baie, baie dankbaar. Sonder julle sou ek dalk ‘n heel ander, baie meer hartseer storie moes skryf.

Ek lê ook geensins beslag op enige belangrike titels of kwalifikasies nie. My gunsteling tydverdryf is om te skryf, meesal humoristiese opinies oor goed wat my hare laat rys.

Ek is ‘n eenvoudige mens, wat lekker kan lag en liters koffie uitsuip. My werk is vir my ‘n plesier en my lewe fassineer my. As ek nie skryf nie, dan sit ek en dink oor goed.

Baie dinge is vir my mooi, maar die mooiste van alles is die uniekheid van die mens.

Ek hoop jy geniet die lees van hierdie blog.

Sharon

Sharon Clack Blignaut

Advertisements